Die geleentheid
So paar weke terug sê die Breakfast span op Bok Radio dat hulle binnekort op die MSC Opera, of soos hulle dit gedoop het die KuierKoets gaan kuier. Ek sms dadelik vir Wimpie van der Sandt, Bok Radio se Bestuurder, en vra as daar enige vermaak in Afrikaans moet gebeur dat hy my moet laat weet. Twee dae later bel die stasie my en ek word genooi saam met Desmond Wells en Nic Stevens om saam met die Bok Span vir 4 dae te reis op n 13 verdieping boot wat sowat 60,000 ton weeg. Bring jou Girl saam, se Wimpie. Eers bedoel hy my kitaar, maar sê toe later my pragtige verloofde Deone, is ook genooi.
Opklim
Ons kom Dinsdag oggend vroeg by Bok Radio se kantoor bymekaar en na n vinnige geselsie op die lug klim ons almal op die Cell C bus en ry Waterfront toe. Wimpie probeer so paar mense flous deur te sê niemand kan reis sonder paspoorte nie, want die geld eenheid is in US$. Dit kom nou van Simon en Lelue, sy mede ankers op die onbyt program wat hom vroër vir n paar ure laat glo het hy het die VSA se Powerball gewen. Die pranks tussen die 3 sal nie gou stop nie.
By die hawe sien ons n lyn mense langer as die MSC wat besig is om tasse in te boek en n plekkie te vind om te sit. Daar was net 2 slegte punte van die hele trip, hierdie was een van hulle. Volgens baie mense wat al meer as n paar keer van MSC se dienste gebruik gemaak het, is dit net n langdurige proses in Suid-Afrika. Volgende keer gaan ek my tyd vat voor ek op die boot klim. Ons was al 10h die oggend daar en die Opera het in elk geval eers 16:00 die water gevat.
Hulle neem n foto net voor jy op die boot klim, wat jy later kan koop teen $19,95. Dit was ook nie vir my baie slim nie want ek soek n foto van my op die boot, nie een van my by die Waterfront nie. Enkele minute later sit ek my voete vir die eerste keer binne die MSC Opera. Ek was nogal opgewonde oor die trip, maar hier het als verander. Hier was ek kop bo-oor skouers verlief op n boot in sekondes.
Eerste gevoel op die MSC Opera
By ontvangs kyk jy in trappe vas wat jou dadelik terug vat na die Titanic, nie die sink deel waar jy jou beddegoed kou nie , die deel waar Jack vir Rose op n date vat. Dis ongelooflik mooi en die Staff wys almal tande en groet elke persoon wat hulle kan. Daar kan ongeveer 2000 mense op die MSC Opera en vir daai 2000 is daar omtrent 700 personeelede. So 1 staff member vir elke 3 gaste.
Ons vat ons tassies na Kamer 9263 toe. Dis n standaard kamertjie, niks spesiaals nie, maar pragtig binne. Ek en Deone was nog nooit uitsoekerig vir goed soos spasie en luxuries nie, maar as jy dit kry is dit n bonus. Ons was baie tevrede met hoe skoon alles was. Jy het niks meer as n bed nodig nie, want as jy in jou kamer jou tyd gaan deurbring moes jy in die eerste plek nie n kaartjie gekoop het nie. Hierdie kamer was permanent skoon gemaak, en voor ons op geklim het was daar 15 ton wasgoed gedoen sodat al die nuwe mense op die MSC Opera silwer skoon cabins kon kry.
Ons het so tydjie gevat om die lifts en gange gewoont te raak, maar oral is bordjies wat aandui waar wat is. Ons volg die pad na vloer 11 om ietsie te gaan kou. Hierdie is waar meeste mense hul tyd spandeer het. Buite in die son langs 2 huge swembaddens, n put put baan, borrelbaddens en buite eetplekkies. Ons gaan bou vir ons elk n Burger en die onspanning begin. Dit was asof enige iets werk related verdwyn het en ek vir n paar dae vergeet het van alles en almal anders. Bliss...
Ek is n persoon wat vinnig verveeld raak op n Boot of in n Hotel, want daar is nie veel om te doen nie, of dit is gewoontlik net te veel geld om jouself te entertain. Jy wag vir jou Show, kry dit klaar, wag vir jou vlug en gaan huis toe. Dis glad nie die geval op die Opera nie, en die beste van als is dat jy klaar vir alles betaal het. Jou uitgawes op die boot is goed soos Drank, Sigarette, Fotos, Casino ens. Kos en vermaak is reeds ingesluit by jou kaartjie so n nie-drinker kan letterlik sonder n sent homself geniet. Jy moet net n tydjie wag vir sap, anders moet jy water of koffie drink.
Hou jouself besig
Daar was n hele verskeidenheid goed om te doen. Elke oggend het jy n program wat duidelik aandui wanneer die boot wat doen en wat gebeur waar. Vertonings laat aande, en Bingo net voor dit, Karoke, Spanbou, kompetisies en baie ander vermaak. Dag een is byvoorbeeld outomaties n awesome dag want jy verkyk alles en loop oral sonder dat iets hoef te gebeur. Daar was ook n dronkie vir elke dag. Tannie Bikini was dag een se vermaak, ook so bietjie dag twee sin. Ek wil nie uitbrei op die prentjie nie, want dit was nie mooi nie. Later die aand het iemand anders van die trappe af gerol en lelik seer gekry. Almal het gedink dit was Tannie Bikini, maar nee, dit was n laat aand Dronkie twee. Nie te min, die volgende oggend het die bang babalas geroep na Castle Lights, wat toe bietjie later weer verander het in n verskeidenheid alkoholiese verversings.
Die volgende dag het ek en Deone goed gedink om van een van die fotograwe se dienste gebruik te maak. Op die stadium het ons gedink die fotos sal seker redelik duur wees. Ons skat toe so $5, maar was baie verkeerd. Soos vroer genoem is dit $19,95 elk, maar jy kan darem n paar gratis kry as jy baie vat. Die fotos is ongelooflik mooi, en ons fotograaf het ons sommer baie oulike behandeling gegee. "You look sexy princess and Bon Jovi" sê hy vir ons. Dit was groot pret, want alhoewel ek die laaste tyd baie voor kameras is, het ek en Deone nog nie n goeie photoshoot vir onself gehad nie.
So tydjie na dit moes ons 3 sangers n plekkie vind om te sing, want baie mense het via BokRadio die boot geboek en n show of twee verwag. Die probleem was dat die Opera reeds n vooraf beplande program gehad het en ons toe moes plan maak om op te tree. Ons sien toe n gap in die Karaoke kompetisie wat die middag gebeur. Divan en Wynand van BokRadio het vinnig gereel met die Cruise Director, Derrick van Wyk, en hy het nie gehuiwer om ons te help nie.
Desmond het weg geval met n paar liedjies, onder andere sy vorige BokRadio nommer 1 liedjie, Desiree. Hy roep toe n paar dames op die verhoog in die Theatre del Opera en 2 van hulle het ons so laat lag dat die aandag later nie eens meer op Desmond was nie. Ek het later kontak gemaak met een van hulle, Nicolette, n 53 jarige single vrou met n sixpack (maag, nie drank nie) wat ons so entertain het dat n paar mense gedink het sy mag dalk dronkie drie wees, maar nee, sy het net cream soda gedrink op die boot. Wys jou, drank is nie altyd nodig om jou innerlike malmens uit te bring nie. Dit was baie inspiring vir my oor ek oppad is na my 2 jaar mylperk sonder drank. Sy het gerobot en breakdance soos n 23 jarige dronk college student, en ons almal het gedink dit was great. Dankie vir die vermaak Nicolette. Dit was AWESOME!
Desmond het vroer die dag dit goed gevind om so bietjie aan my te karring. Ons doen dit al jare, so niks nuuts nie, maar ek het hom gese ek sal hom later terug kry, verkieslik as ek n Mic in die hand het. Ek het my songs gesing na Nic op was en klaar gemaak met wyntrein. As jy nog nie Wyntrein live gesien het nie, ek sing hom asof ek gesyp is, en toe ek die liedjie klaar maak sê ek, "Baie dankie, my naam is Desmond Wells." Dit was n jammerte ons kon net so 3 liedjies elk sing, maar die gehoor was ongelooflik en verbasend baie Afrikaanse mense.
Jy slaap nie baie nie
Teen hierdie dag was ek al so moeg gewees ek was bang ek gaan my woorde op die verhoog vergeet. Min slaap is nie oor die boot jou pla nie, dis oor jy dit so baie geniet dat tyd verdwyn. Ek en Deone het deur die Casino gestap. Ons vat n gangetjie en die volgende oomblik skrik ek my skoene los vir n ou wat voor my staan, dis toe dat ek besef dis n spieel. Wys jou hoe skoon hulle die plek hou, en hoe moeg ek was. Op n ander kol het ek weer die pad terug kamer toe gevat en in die middel van die gang gestop. Ek se vir Deone hier is dan nou n spieel, ek was so deur die blare dat ek nie kon sien daar is geen refleksie nie. Ek was seker net bang ek loop die keer regtig in iets vas. Na my verloofde haar pap gelag het vir my, het ek besef hoe blessed ek is om dit saam met haar te kon doen.
Kos
Die eerste aand van die reis het ons almal n ietsie by een van die Resturante gaan eet. My familie, BokRadio, en al die sangers was almal bymekaar om verskeie tafels, lekker gesellig. Die plek is ongelooflik mooi en die menus het geklink soos die hemel, al lees jy dit in n Afrikaanse aksent. ONS KON NIE MEER VERKEERD WEES NIE... Hierdie was die 2de slegte punt waarvan ek vroer gepraat het.
Meeste van ons bestel Kalamari as n voorgereg en Steak as n main. Die kalamari het maar soos elke plek se kalamari geproe, so dit was fine, maar nie iets om oor huis toe te skryf nie. Simon het nog vir Esmare, Desmond se vrou, gese sy kan maar al haar kalamari eet, toe sy vir hom van dit geoffer het, want hy wou plek hou vir sy steak. Al ding is, dit was nie n steak soos n Suid-Afrikaner n steak ken nie. Die arme dingetjie was so duk soos bacon en het absoluut geen smaak gehad nie. Ons het later agter gekom dat steak, vis en hoender als dieselfde proe. Die manne was onsteld, en deur die loop van die toer het dit nie verbeter nie. Die enigste kosse wat werklik smaak gehad het was die ontbyt buffet, so dis maar waar ons groot skeppe gevat het. Steeds, reg deur die hele trip het die kos my nie gepla nie, want daar is net te veel goeie dinge wat dit nie n probleem maak nie. Ek dink ook dat alles anders op die boot ons voete onder ons uit geslaan het en ons dit verwag het van alles verder ook.
Stille waters... skielik nie
Ons het op die laaste aand die wilde waters gevoel. Ons moes 2 ure vroer uit mosselbaai vaar en die Boot het soos n wiplank gewieg. Stabilizers onder die boot maak dat hy nie links na regs wieg nie, maar liewer net op en af. Ek was soooo bly ek het nie gedrink nie, want n babalas en daai gewieg kon vir niemand lekker gewees het nie. Needless to say, so paar mense het lekker seesiek geraak en maar in die kamers gebly. Die een dame by die Cashier se dis niks nie, hulle moes al vaar terwyl plante van tafels af val. Ek moet sê, ek het nogal die rowwe water geniet, was net baie vreemd toe ons op land kom en jy skielik nie kan loop nie. Ons was 4 aande op, ek kan net dink hoe voel 18, of hoe dit moet voel as jy vir 9 maande aan een op die boot werk.
Meer oor die MSC Opera
Die Opera is 250m lank, Trek teen so 25km per uur, weeg amper 60,000 ton en verbrand R20,000,000 se diesel per maand. Vloer 1 en 2 bestaan uit enjin kamers. Daar is eintlik nie n vloer 2 nie, want dis te groot. Daar word 3.2 Ton poultry geëet op ons trip, 4.2 ton vleis, en dan nog natuurlik water, melk, vrugte, groente en ander vleise en kosse wat n totaal van maklik nog 20ton sal haal. Daar is n herwinnings fabriek op die boot en daar word ongeveer 1000km toiletpapier gebruik op so uitstappie. Oorskiet kos word geskenk aan liefdadigheid en al die MSC se bote voldoen aan baie streng omgewing reels en regulasies, sowel as veiligheid. Daar is permanent n brandweer span op die boot aangesien dit die grootste gevaar is. Jy moet ook deelneem aan n veiligheid drill op die eerste dag of jou kaart word geblok.
Om af te sluit
Ek besef nou ek skryf al baie lank en het nog skaars als gese wat ek wou, maar alles en alles het ek een ding geleer hierdie 4 dae. As iemand jou vra om op een van die MSC bote te gaan. Doen dit, moenie wag nie, pak jou tasse en klim op die ding, want jy gaan dit geniet. Ek kan nie glo ek het so laat eers iets soos dit probeer nie. Ek is reeds besig om te kyk na die volgende reis, miskien die Sinfonia die keer. Dit was werklik baie lekker en as jy die somme maak, glad nie duur nie.
Sien jou miskien eendag op een van die MSC bote. Dit was... die bom
Spesiale Dankie
BokRadio vir die geleentheid, Desmond Wells en Nic Stevens vir die kuiertjies en vermaak, sowel as elke persoon wie my kom groet het, fotos geneem het en gesels het. Ook aan almal wie vir Bok gesms het en voorgestel het dat ek saam gaan, ek het eers later van hierdie gehoor.





.jpg)
So verskriklik bly julle 2 het dit geniet. Jy verdien die klein ruskansie veral na al die stress van Die Sanger .......
ReplyDelete